Description
Hierdie Opvoedersgids dien as aanvulling tot die jeugverhaal ‘n Soen vir Whitney, wat deur Voices in Africa uitgegee word. Die verhaal is gerig op leerders van graad 6 tot 10 en die doel daarvan is hoofsaaklik om ’n bydrae te lewer tot die voorkoming van MIV en vigs.
Aangesien die verhaal sterk vir homself spreek, moet leerders aangemoedig word om die boek eers op hulle eie en teen hulle eie tempo deur te lees. Omdat die fokus in die verhaal hoofsaaklik val op portuurgroep-onderrig, behoort dit vir leerders maklik te wees om hulle met die karakters te identifiseer en deur hulle geïnspireer te word. Leerders sal egter ook baat vind by verdere klasbesprekings, aktiwiteite en oefeninge wat kritiese denke en probleemoplos-singsvaardighede aanmoedig. Hierdie Opvoedersgids is juis ontwikkel om u te help in hierdie verband.
‘n Soen vir Whitney kan doeltreffend gebruik word in die Lewensoriënterings- en/of Taal-leerareas. In ooreenstemming met die Hersiene Nasionale Kurrikulum-verklaring, voldoen die boek aan die volgende kritiese en ontwikkelings-uitkomste van Uitkomsgebaseerde Onderwys:
• Dit moedig kritiese denke aan en ook besluitneming veral ten opsigte van waardes. Die ontwikkeling van waardes is een van die boek se sentrale temas en dit word oorgedra deur die uitbeelding van teenoormekaarstaande waardes en gedragspatrone binne die intrige. Leerders sal vind dat hulle deurentyd uitgedaag word om daaroor te besin of hulle met die verskillende karakters in die boek saamstem en ook of hulle hulle kan identifiseer met die karakters en die
opponerende konfliksituasies binne die verhaal.
• ‘n Soen vir Whitney help leerders om groter begrip te ontwikkel vir die onderlinge verband wat daar heers tussen die stelsels en probleme binne die skoolwêreld, huis, gemeenskap en verhoudings van ’n jongmens. Die boek illustreer ook duidelik dat MIV/vigs-probleme sowel as -oplossings nie binne ‘n geïsoleerde konteks bestaan nie.
• Die boek het ‘n multikulturele rolverdeling en is daarop gerig om kulturele begrip en sensitiwiteit te bevorder, terwyl dit relevant probeer bly en by ‘n wye verskeidenheid van leerders uit verskillende agtergronde aanklank probeer vind.
• Alhoewel dit nie die hooftema van die boek is nie, word die onderwysprofessie in ‘n Soen vir Whitney positief en inspirerend uitgebeeld wat die geleentheid skep om dit as edele en verdienstelike beroepsmoontlikheid onder leerders se aandag te bring.
‘n Soen vir Whitney is geskik vir Moedertaal-leerders of leerders op die vlak van Eerste Addisionele Taal, afhangende van hulle graad en ouderdom. Verder kan dit bydra tot die bevordering en uitbreiding van die volgende spesifieke Taalleerarea-uitkomste:
• Die boek is ryk aan dialoog en woordeskat en kan op verskeie maniere sinvol gebruik word om al ses die leeruitkomste van luister, praat, lees, skryf, dink en redeneer te integreer, en so ook taalstruktuur en taalgebruik.
• ‘n Soen vir Whitney bevorder op ‘n oortuigende wyse die integrasie van waardes in taalonderrig. Die teks weerspieël positiewe sowel as negatiewe waardes en moedig leerders aan om dit te ontleed en dan weerstand te bied teen die negatiewes.
‘n Soen vir Whitney dra ook by tot die bevordering van die volgende spesifieke uitkomste wat betref die Lewensoriënteringsleerarea:
• Die Bevordering van ‘n Gesonde Lewenstyl:
Die teks spreek sosiale en persoonlike probleme aan wat ontstaan vanweë lewenstylkeuses en hoë-risiko-gedrag, veral met verwysing na MIV/vigs. Die integrasie en toepassing van sekere kritiese waardes, gedrags- en lewenstylkeuses soos in die boek uitgebeeld, kan ‘n positiewe uitwerking hê op die gesondheid, lewenskwaliteit en welsyn van leerders.
• Sosiale Ontwikkeling:
Soos reeds vermeld, kan die multikulturele rolverdeling en konteks van die boek bydra tot die bevordering van wedersydse begrip en respek tussen die verskillende kultuurgroepe binne die Suid -Afrikaanse milieu.
• Persoonlike Ontwikkeling:
‘n Soen vir Whitney is daarop gemik om leerders toe te rus met die nodige lewensvaardighede en oordeel sodat hulle effektief op die uitdagings van MIV/vigs kan reageer.
• Oriëntasie ten opsigte van die Wêreld van Werk:
Daar is vroeër reeds verwys na die boek se positiewe uitbeelding van die onderwysberoep.
Reviews
There are no reviews yet.